Bertus Osbloed van Nierkerk – Wyn, kos en kuier by Laughing Chefs Boersjiek

Ek ken vir Bertus nou so 4 jaar … okay, hom eenkeer by een van sy wynproegeleenthede in Pretoria ontmoet.  Maar ek dink ek “ken” vir Bertus… en hy “ken” my. Ek dink so. Ons het immers al saam gehuil op Facebook, en ek en hy en sy Ma het al koffie by Cappucinos gedrink toe hy eenkeer in Centurion gekuier het.

Ek gaan Google toe net so bietjie vir Bertus. Nou nie geweldig baie info nie, maar die volgende opskrif en berig deur Maroela Media vang my oog: “Dominee op soek na drie kaal ruiters” 16 September 2012. Hulle berig dat Ds Bertus, voorheen leraar van die Hervormde gemeente Cartletonville, is op soek na drie vroue om kaalbas op sy partytjie te kom perdry…… en die storie volg.

Ek gaan nie die storie hier breedvoerig vertel nie, want Bertus Osbloed vertel dit en sy ander stories wanneer hy sy wyn met sy gaste deel.

Maar Bertus het my en sy vriende aan sy voete. Hy stel 10 wyne aan ons voor, vertel elke wyn se geskiedenis. Daar is die perde van Openbaring: Vaalperd, Swartperd, Rooiperd en Witperd. Ook proe ons oa Wonderbare Radsman (my gunsteling), baál en Kultus.  Die stories is deurvleg met sy lewensverhale … oor sy Pa, Ma, sy kinders, Selma Albisini, sy kunstenaarsvrou wie sy wyne se etikette geskilder het en oorlede is in 2014. Soveel respek, deernis en passie in elke sin. Hy lig bietjie die sluier oor sy ervarings en sienings oor die kerk, geloof en die politiek.

Hierdie besondere aand vind plaas by Laughing Chefs Boersjiek se venue, Oude Hout Mountain lodge, op Lynnwoodweg buite Pretoria. Esrida en Maggie paar die wyne met geregte soos krap en mozzarellasigaar bedien met komkommersalsa. Botterskorsie- en beetslaai met feta, gemengde sade en besprinkel met balsamiese reduksie. Stadig-geroosterde beeskortrib met murgbene op romerige polenta en groenbone. En ons sluit af met suurlemoenkaaskoek. Ek hoor hoe komplimenteer Bertus hierdie twee chefs met hul uitstekende kos wat PERFEK by die wyne pas … en ek weet sommer die gaste eet weer heeerlik vanaand .. ! Hierdie twee ervare, professionele en gewilde chefs weet van kosmaak, mense welkom te laat voel en elke oomblik te verryk met humor en liefde.

Toe almal sug van teleurstelling met die aankondiging dat die proeery nou klaar is, verras Bertus ons met sy “party trick”. Hy bring ‘n bottel tevoorskyn…. iets met slang en skerpioen te doen? En raai wie proe eerste… ? Niemand anders as Maggie… ons een chef en gasvrou!!! Genade, net die reuk wou my al my kamera laat neersit en weghardloop.. Wel, toe is die ys gebreek en toé kuier ons lekker! Gesels, lag, kuier en proe steeds wyn tussendeur….. en het ek gese kuier …  soos net Osbloed se gaste by hierdie lieflike venue en sy gasvroue kan.

Ek is teleurgesteld toe ek besef die aand is verby .. die mense moet nou huistoe. Maar ek voel lekker… ek het die aand spandeer met my tipe mense. En ek is bly.

Ek ken nou vir Bertus beter …

Posted in

Leave a Comment